Skip to main content

Ek is trots Afrikaans…in Ierland

Voor ek hier begin tik, moet ek gou ‘n knoop in my oor maak on nie te veel aandag te gee aan my Spelcheck nie!

Ons is ‘n Afrikaans sprekende gesin, met 3 kinders, waarvan 1 in Ierland gebore is en die ander twee wat 1 jaar oud en 4 jaar oud was toe ons gekom het. Hulle is nou 6 en 9 jaar oud en ek is baie trots om te se (lees asseblief die kappies ens in waar hulle mis, my laptop is vol nonsens vandag) dat ons nogsteeds elke dag heeldag Afrikaans praat in ons huis.

Dit was een van my groot bekommernisse toe ons besluit het om oor te kom. Ek is trots op baie dinge in Suid Afrika. Daar is baie dinge wat ek lief het en baie dinge wat ek mis, maar sonder om doekies om te draai kan ek op die heuwel staan en uitbassein vir enige mens wie ore het dat Afrikaans vir my een van my groot liefdes is.

My man is Engels, maar van voor ons kinders gehad het was ons albei vas in die beginsel dat ons hulle sou groot maak met Afrikaans as hul moeder taal.

En hier sit ons nou.

In ‘n land waar bitter min mense ons verstaan en ons kinders meng Engels en Afrikaans as hulle ‘n halwe kans het sonder om te dink. Ek moet gereeld vir een van hulle se om op te hou praat en in Afrikaans te dink en dan weer te probeer. Meeste van die tyd het hulle geen probleem om die Afrikaanse woord te vang in hul gedagtes nie, maar dis nou maar makliker om net in Engels te praat.

Ongelukkig vir hulle het hulle ‘n ma wat voel hoe sy die knop in haar keel moet terug sluk elke keer wat ou Snotkop sing “om met trots te se ek’s Afrikaans en dit te kan bedoel!”

Ons skakel in op Bok Radio as ons braai en praat Afrikaans al is ons nie by die huis nie. Ek wil he hulle moet die taal ken. As ek boodskappies op my foon kry in Afrikaans, wys ek dit vir my oudste sodat hy die klanke kan uitspreuk en leer hoe hulle vorm.

Vir baie mense is ek oorbodig met dit. Hulle verstaan nie. Maar vir my is Afrikaans meer as net ‘n taal. Dis MY taal. Dis so deel van wie ek is en hoe sal hulle ooit verstaan hoekom Laurika se Blouberg se strand my nostalgies maak as hulle nie verstaan wat die woorde beteken nie? Hoe sal hulle my ooit regtig kan verstaan as hulle nie verstaan dat Bitterbessie dagbreek vir my bitter mooi woorde is nie, of selfs dat bitter nie altyd bitter beteken nie?

Nou ja, hoe vaar my Afrikaanse kinders in hulle Engelse lewens? Man, hulle doen klop disselboom!

Vir hulle is dit hoe ons is eenvoudig net hoe dit is. Daar is geen rede hoekom dit nie vir hulle dood normaal is nie. By die skool het die onnies vinnig ingespring toe ons gekom het (ons het op ‘n Gaeltacht geland, waar hulle nie eens Engels eerste taal praat nie, maar Iers) en omdat ons huis taal nie Engels is nie, was daar dadelik additionele taal lesse vie my kind en my gegee. Dit was ongelooflik!

Selfs nou, waar ons in ‘n Engels sprekende area is, is daar geen hindernis vir ons kinders nie. Inteendeel, ek dink so daaraan, dit kan hulle in die lewe net goed doen om te weet dat 2 mense 2 verskillende woorde kan gebruik, sonder om mekaar te verstaan en tog dieselfde ding bedoel. 

So as jy bang is om te trek, omdat julle Afrikaans praat, moenie wees nie. Ons kinders het geen probleme gehad nie. Ons het geen probleme gehad nie en die enigste ding wat jy moet onthou is dat as jy in Afrikaans wil skinder op straat, die kanse geweldig groot is dat daar ‘n ander Afrikaanssprekende Suid Afrikaner in jou omgewing sal wees!

Sterkte vir die trek, en hou die blink kant bo!

-Vicky

#MapMyMove
Our coaching Services

Confused or lost and need some direction, book a session with us to help untangle the confusion and work out your route of immigration
author avatar
Vicky Moolman