Skip to main content

Ek is trots Afrikaans…in Ierland

Pink protea flower in a clear glass vase on a rain-speckled windowsill, soft natural light coming through the window.

Voor ek hier begin tik, moet ek gou ‘n knoop in my oor maak om nie te veel aandag te gee aan my spelcheck nie!

Ons is ‘n Afrikaanssprekende gesin, met drie kinders. Een is in Ierland gebore. Die ander twee was 1 jaar oud en 4 jaar oud toe ons gekom het. Hulle is nou 6 en 9 jaar oud, en ek is baie trots om te sê (lees asseblief die kappies ens. in waar hulle mis, my laptop is vol nonsens vandag) dat ons nog steeds elke dag heeldag Afrikaans praat in ons huis.


My groot bekommernis

Dit was een van my groot bekommernisse toe ons besluit het om oor te kom.

Ek is trots op baie dinge in Suid-Afrika. Daar is baie dinge wat ek lief het en baie dinge wat ek mis. Maar sonder om doekies om te draai, kan ek op die heuwel staan en uitbasuin vir enige mens wat ore het, dat Afrikaans vir my een van my groot liefdes is.

My man is Engels. Maar van voor ons kinders gehad het, was ons albei vas in die beginsel dat ons hulle sou grootmaak met Afrikaans as hul moedertaal.

En hier sit ons nou.


In ‘n land waar min mense ons verstaan

In ‘n land waar bitter min mense ons verstaan, en waar ons kinders Engels en Afrikaans meng as hulle ‘n halwe kans het, sonder om te dink. Ek moet gereeld vir een van hulle sê om op te hou praat, in Afrikaans te dink, en dan weer te probeer. Meeste van die tyd het hulle geen probleem om die Afrikaanse woord te vang in hul gedagtes nie, maar dit is nou maar makliker om net in Engels te praat.

Ongelukkig vir hulle het hulle ‘n ma wat voel hoe sy die knop in haar keel moet terugsluk elke keer wat ou Snotkop sing “om met trots te sê ek’s Afrikaans en dit te kan bedoel!”


Hoe ons die taal lewend hou

Ons skakel in op Bok Radio as ons braai. Ons praat Afrikaans, al is ons nie by die huis nie. Ek wil hê hulle moet die taal ken.

As ek boodskappies op my foon kry in Afrikaans, wys ek dit vir my oudste, sodat hy die klanke kan uitspreek en leer hoe hulle vorm.

Vir baie mense is ek oorbodig met dit. Hulle verstaan nie. Maar vir my is Afrikaans meer as net ‘n taal. Dis my taal. Dit is so deel van wie ek is.

Hoe sal hulle ooit verstaan hoekom Laurika se Blouberg se Strand my nostalgies maak, as hulle nie verstaan wat die woorde beteken nie? Hoe sal hulle my ooit regtig kan verstaan, as hulle nie verstaan dat Bitterbessie Dagbreek vir my bitter mooi woorde is nie? Of selfs dat “bitter” nie altyd bitter beteken nie?


Hoe vaar my Afrikaanse kinders in hulle Engelse lewens?

Man, hulle doen klop-disselboom!

Vir hulle is dit hoe ons is, eenvoudig net hoe dit is. Daar is geen rede hoekom dit nie vir hulle doodnormaal is nie.

By die skool het die onnies vinnig ingespring toe ons gekom het. Ons het op ‘n Gaeltacht geland, waar hulle nie eens Engels as eerste taal praat nie, maar Iers. Omdat ons huis-taal nie Engels is nie, was daar dadelik addisionele taalklasse vir my kind én vir my gegee. Dit was ongelooflik!

Selfs nou, waar ons in ‘n Engelssprekende area is, is daar geen hindernis vir ons kinders nie. Inteendeel, as ek so daaraan dink, kan dit hulle in die lewe net goed doen om te weet dat twee mense twee verskillende woorde kan gebruik, sonder om mekaar te verstaan, en tog presies dieselfde ding bedoel.


‘n Boodskap vir enige Afrikaanse gesin wat wonder

So as jy bang is om te trek omdat julle Afrikaans praat, moenie wees nie.

Ons kinders het geen probleme gehad nie. Ons het geen probleme gehad nie. En die enigste ding wat jy moet onthou, is dat as jy in Afrikaans wil skinder op straat, die kanse geweldig groot is dat daar ‘n ander Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner in jou omgewing sal wees!

Sterkte vir die trek, en hou die blink kant bo!

-Vicky

A person with long curly hair sits on a couch reading a picture book to a child cuddled on their lap in a warm, cozy living room.

#MapMyMove
Our coaching Services

Confused or lost and need some direction, book a session with us to help untangle the confusion and work out your route of immigration
author avatar
Vicky Moolman